President Kruger
Kinderhuis / Children's Home

Seuns Oorlewingskamp
11 - 13 Maart 2005

 

Goeiemôre vriende,

Wat 'n heerlike kamp! Weereens danksy die Genade 'n REUSE SUKSES!

Donderdagaand ry ek "vinnig" kinderhuis toe om net gou die seuns se geskenk/lekkerny pakkies af te laai. Vir elke kind is daar 'n "lucky packet" sak! met bederfies binne-in. 'n Drimack baadjie, t-hemp en 'n hoed asook al die toiletware wat 'n seun mag nodig kry (ja skeerseep en skeermesse ook!), koeldrank, lekkers, ens, ens! my arms breek amper so swaar is elke sak!

Die seuns wag toe almal in die saal vir my! - wat 'n groot lekkerte om die opgewondenheid op die gesiggies te sien! Dit slaan my tussen die oë - die meeste van die outjies is dan nog so klein - jonk en klein van postuur! Twee seuntjies sit met hul teddies styf in die arms!

Hulle peper my met die vrae. Hoe groot is die spinnekoppe nou rerig? - ek vertel dat hulle so groot is dat ons maar krieketkolwe moet saamvat om die monsters te vermorsel! - hulle lag lekker diep uit die magies en onmiddellik hardloop die verbeeldings weg! - een outjie "brei" en hy verduidelik hoe hy hierdie vet spinnekoppe sommer so plat sal slaan!! Ja sê die ander outjie dan lyk hy soos "n "flat chicken"

Na al die slim stories gaan kuier ek eers in almal se kamers. Die meisies is op die eerste vloer en die seuns op grondvloer. 3 ure later ry ek huis toe!

Vrydag arriveer 'n "gonsende" bus net na sononder. Ek word hallooooo gesoen! Party bekkies was lekker taai van al die swieties!
Maar so 'n klapsoen is kosbaarder as alles in die wêreld! Die manne is opgewonde en wil net weet wat alles gaan gebeur, maar ons probeer om alles 'n geheim te hou en net toe ons dit amper regkry word ons geboikot. Christo ons fasiliteerder arriveer met 2 "Quadbikes" 'n grootte en 'n kleintie! en die seuns spring amper uit hulle velle uit!

Die opgewondenheid is nog hoog toe daag die 2e verrassing op. Die SAPD van Lydenburg arriveer en wat het hulle agter-in die kar? - 'n Dwelmhond! - nou kry party outjies amper stuipe van lekkerte!
'n Pikswart "border kollie" spring uit en begin kringe om die kinders hardloop en speel. Toe is dit tyd om na die polisie te kom luister. Hulle word geleer dat die polisie hulle vriende is en daar is om hulle te help en te beskerm. Die eerste item is dwelms, hulle word gewaarsku teen al die gevare. Hulle word gewys hoe lyk dagga en die wysheid wat toe daar uit kom, kan ek nie hier op wit en swart neersit nie. Toe is dit die hond se beurt. Kokaien, Mandrax, Dagga en Ecstasy wat in houers is, word gesirkuleer en toe word die houer met mandrax op die die een outjie weggesteek! Die hond kom in - kry sy instruksies en toe begin die sports! Dit snuffel en ruik en binne minute kry hy die dwelms presies waar dit weggesteek was! in CJ se hoed! Hy grill hom amper dood toe hond sy nat snoet in sy nekkie indruk en die dwelms wil uithaal!

Volgende was 'n wapen demonstrasie. Al die verskillende wapens en die gebruike daarvoor is gedemonstreer. Nou blink die ogies behoorlik. Hulle hanteer die wapens en sommer gou-gou klink dit asof hulle oorlog beplan. Hierna is dit buitentoe. Donderbuise en flares (ek kan nie mooi al die name onthou nie) word afgevuur en dit klink en lyk soos oorlog daar op Blue-bery Hill! Die ligfakkels verlig die plaas en sugte van verwondering word oral gehoor!

Hierna bederf Charmaine en Santa (2 polisievroue) die seuns met lieflike geskenkpakkies. Die polisie was ons gaste en na die tyd braai hulle toe heerlik saam met die kinders en antwoord al die duisende vrae!

Na middernag kry ons hulle uiteindelik tot ruste!

Saterdag oggend peul hulle behoorlik uit die tente! "verkenners" kom gee rapport dat hulle nou al klaar alles "uit gecheck" het! Yochurt en Bokspap word verorber en toe kom die volgende verrassing. 18 "Paintball" gewere en uitrustings agterop Christo se bakke sorg vir pandemonium! Vandag gaan daar geskiet word dat dit gons. Na die spanpraatjie is almal veld toe. Gras en takke is oral ingedruk vir "camo" en toe begin die groot oorlog!. Skielik hoor ons 'n gegil wat die berge laat bewe - iemand is op sy rug raakgeskiet! Hy word dadelik teruggebring basis toe en nadat almal sy "wond" beskou en bewonder het voel hy sommer baie beter. 'n Paar soene op die seerplekkie doen wondere en hy hardloop terug "oorlog" toe!

Middag ete is heerlike braaibroodjies en baie koeldrank! Een van die dames vra vir 'n seun "weet jy waar 'n kraan is?" en hy antwoord "Tannie ek weet rerig nie - op hierdie kamp drink ons net koeldrank en milkshake!

Volgende verrassing - Quintus arriveer met 4 slange - 'n 2 meter lange luislang veroorsaak amper die "ritteltits" onder ons almal! Die stomme slang word om almal se nekke gedrapeer en uitgeryg - dit is sommer 'n naarheid!

Hierna was dit tyd om bietjie te "chill". Terwyl die manne rus, steek Christo weer hulle kos in die veld weg! Gepantser met kompasse en kaarte moet hulle in die donker hulle kos gaan soek en afbring basis toe om gaar te maak. Heerlike halwe hoenders en sosaties sorg vir 'n feesmaal en een outjie sê "ek het nog nooit, nooit ooit soveel vleis op een slag geëet nie! Na middernag moes hulle stil gemaak word - want toe was ons almal gedaan!

Sondagoggend het almal bietjie later "ingelê" Eers was daar "bokspap" vir honger magies en daarna moes hulle die tente skoonmaak en inpak. Teen 10:00 het Phil hulle bederf met 'n heerlike ontbyt van yogurt, roer-eiers, gebraaide worsies, tamaties, baie kaas ens ens. "Nou is ek so dik - ek kan net omval en slaap" was meer as een seun se kommentaar.

Maar dit was nog nie die einde nie. Christo besluit toe daar was heelparty outjies wat nie die veldfietse ordentlik kon bestuur nie en daar word hulle toe almal summier weer op 'n fietsry kursus gestuur! Intussen het Phil en die groot seuns begin om die "Flyfishing rods" reg te kry en kon hulle begin oefen! Gou-gou was almal meesters en het hulle die damme betrek!- ongelukkig was daar toe nie meer genoeg tyd nie en moes hulle maar na 'n rukkie ophou.

Huis toe gaan tyd was weereens so hartseer. Op 'n manier het ons die seuns meer jammer gekry as die meisies. Ek kan dit nie verklaar nie, maar die gevoel was heeltyd "anders" Miskien was daar meer hartseer in party seuns se oë as by die meisies - "cowboys dont cry" hulle bêre mos die seer diep binne in! Maar ek het Donderdag aand gesien hoe slaap die klein outjies elkeen met 'n sagte diertjie en op die kamp is die sagte diertjies in die aand voor by hulle hempies ingedruk gewees toe hulle moes aansit vir ete!

Ek belowe om hulle sommer gou-gou weer te laat kuier en dan sluit ons die kamp af met die seuns wat uit volle bors sing "Want goedertierend is die Heer, Sy goedheid eindig nimmer meer........ Ons loop almal sommer in die veld in toe die bus by die hek uitdraai.

BAIE, BAIE DANKIE AAN ALMAL WAT HULLE HARTE OOPGEMAAK HET, EN DIT VIR HIERDIE SEUNS MOONTIK GEMAAK HET OM 'N SORGVRYE NAWEEK VOL BEDERF TE GENIET!

Maar bowe al DANKIE aan ons Hemelse Vader vir 'n sorgvrye, veilige naweek vir SY kinders!


Tot later

Elsabe


 
   
 
 

 

 

 

So lyk dagga, wees altyd versigtig

 

 

 

 

Groot konsternasie, die hond het die dwelms gekry

Nou haal die hond die dwelms sommer uit!

   

 

 

Die polisie is ons vriende, hulle beskerm ons!

Christo luister ook aandagtig na die SAP

   

 

 

Ligfakkel

Ligfakkel

   

 

Santa en Charmaine van die SAP deel geskenkies uit - dankie!

Nou wanneer is dit my beurt?

   

 

 

Groot bederf

Spanpraatjie voor die kamp begin

   

 

Spanpraatjie

Eina, pyn - dit is seer!

   

 

Terugkeer na die basis

Darem nog so klein

   

 

 

SAP, hier kom ons!

Nou vang ons al die forelle!

   

 

Morné en Gina

Hier jol ons lekker!

   

 

 

Dit was 'n lekker kamp - baie dankie aan ons borge

Die kleintjies, te pragtig!