President Kruger Kinderhuis

Kersfunksie 21 November 2006

Heel eerste wil ek vir Danie en Annatjie BAIE dankie sê! Hulle was in beheer van al die reëlings en werk vir hierdie funksie!
Baie dankie julle twee vir al julle bystand en groot liefde vir die kinders. Julle ondersteuning vanaf die begin van die projek word opreg waardeer!

Was dit nou vir jou 'n fees! Vroegmiddag trek die wolke saam (net soos verlede jaar) en ek dink benoud dat ons weer lekker nat gaan reën - maar toe besef ek - "Die reën veral op hierdie dag is 'n blessing! Water gee lewe! en die kinderhuiskinders gaan 'n heerlike kersboom hê! Toe ons arriveer hang daar 'n klomp dogters soos vinke uit hulle kamervensters en groet ons met volle oorgawe! So lekker om kinders te sien lag!

So 'n aptytwekkertjie voor die tyd vir 'n paar seuns is 'n "Blou bul bal geteken deur al die spelers" (Ek weet van 'n hele kolonie mans wat hulle voortande daarvoor sou gee! ) Geen groter vreugde - hulle straal en hou die balle so styf vas dat ek bang is dit sal afblaas! Dankie Bulle - julle bly tops vir ons!

Ds Jan Venter open met 'n getuienis van sy eie lewe as kind en die kinders hang aan sy lippe - die storie van sy lewe is hulle storie ook! Die boodskap is van "vorentoe kyk - wat in die verlede gebeur het is verby - wat in die toekoms gebeur is in jou hande!" en die kinders stem heelhartig saam!

Toe is dit geskenke tyd. Danie wat sy lyf kersvader hou - sweet lekker onder die rooipak. En toe hy sy verskynig maak roep een outjie
"Hallo Oom Danie!" en net daar bars hy toe amper die kleintjies se "bubble". Gelukkig is die geskenke belangriker as die identifikasie en word hy uit volle bors verwelkom! Soos wat die name uitgelees word vat dit heeltemal te lank vir party van die kleiner outjies en hulle skuif al hoe meer vorentoe - sit toe al amper ook op kersfeesvader se skoot! Ons almal wag in spanning om die meisie wat nou al "4 jaar vir 'n cd walkmen vra" se gesig te sien wanneer sy haar pakkie oopmaak. Die groot wag is die moeite werd!
Ek glo nie sy het verwag om dit wel te kry nie! - Sy begin die papier so staaaadig oopmaak (seker ook maar bang vir 'n teleurstelling)
en meteens gee sy 'n gilletjie "Dit is 'n cd walkmen" en jy sien net papiere waai! Ek het nog nooit 'n kind so gelukkig gesien nie!

Almal se wense het waar geword - tenminste een van die artikels waarvoor hulle gevra het is in die geskenkpakkie en vir party wat nie te duur geskenke gevra het nie is daar sommer iets van al drie die wense!

'n 11 jarige dogtertjie kom vra vir my 'n lappie of 'n sakdoek, ek dog dit is vir 'n ligte verkouetjie. Die volgende oomblik staan sy met 'n tand in haar hand!. "Hier is hy tannie ek het net gou my maatjie se tand getrek - sy wissel mos nou!" Nou ja - daar het jy dit . Hoop die tandemuis het sy ding kom doen. (sien haar foto binnekort op die webwerf www.danvillehulp.co.za)

Oral sien jy net hoe die kinders met hulle nuwe speelgoed speel - en daar kom so warm en dankbare gevoel in jou hart dat daar soveel wonderlike mense daarbuite is met soveel naasteliefde om vreugde en geluk in kinders se lewens te bring - weereens baie dankie.

Ons sluit die funksie af met 'n heerlike braai en lekker verversings! - so baie dat daar vir hulle oor is vir die volgende dag ook!

(Ek ry omtrent 8 uur daar weg reguit hospitaal toe - en kwart voor elf word ons kleindogter prematuur op 34 weke gebore 2.03kg!
2 uur die nag klim ons in die bed -dankbaar dat alles goed afgeloop het!)
 

Sien ook Bloubulvreugde

 

 

 

 

 Dankie vir my geskenk

Geen beter tyd om jou voortand te wissel nie!

 

 

 

 My eie beertjie

Ek en my Kersfees poppie

 

 

 

 En toe word daar gebraai

Presies net wat ek wou hê

   

'n Nuwe geskenk, tog te lekker!

Tannie Suna kuier lekker saam

   

'n Kuiermaatjie kry ook 'n geskenkie

Elsabé en Vader Kersfees

   

Sê nou dit kon altyd Kersfees wees

Uiteindelik is dit Kersfees

   

Uiteindelik na 4 jaar my eie CD walkman

Ds. Jan Venter bring die blye boodskap

   

Sien ook Bloubulvreugde