|
|
President Kruger Opgradering - Oorhandiging |
|
PRESIDENT KRUGER
KINDERHUIS OPGRADERING EN KERSFEES IN JUNIE 2005 FUNKSIE Saterdag 11 Junie 2005 - Uiteindelik is die groot dag hier! Vroegoggend was die kinderhuis al in rep en roer - die kinders het iets verwag - maar nie mooi geweet presies wat nie! Gou- gou was die springkastele op en kon hulle soos ribbokke rondspring! Ons Andeon Projek se 10 kindertjies het ook saam kom kuier - en die vreugde was groot toe spookasem bolle en volop lekkernye uitgedeel word. Van die kleinste outjie, maar net 11 maande tot die oudste omtrent 11 jaar - se ogies het soos kristalle geblink! Intussen het die "opgradeerders" teen die spoed van wit lig die kamers begin klaarmaak en het die "optoff!" van die kamers begin. Die sakke wat ingedra was, het soos skatkiste gelyk! Nog nooit, ooit het ek sulke pragtige goedjies gesien nie! Dit het gelyk soos professionele binnehuisversierders. Almal het net presies geweet wat kom waar! 11:00 daag daar sowaar toe sommer 2 Vaders Kersfees op en glo my vandag - ek het nog nooit sulke verbaasde gesiggies gesien nie! (en ek is al stokoud!) Dit gil en jil - "Dit is dan nou nog net Junie!!!" en die jongste seuntjie spring sulke wilde bokspronge - nooit geweet 'n 3 jarige kan so spring nie! Uiteindelik was almal binne in die saal en kon die geskenke uitgedeel word. Hier was dit nou weer die deel waar jy mans vinnig sien uitstap! Van die vrouens het so gehuil dat dat hulle na die hele proses eers weer ingekom het. Soveel vreugde kan nie in woorde beskryf word nie! - en ons weet "Liewe Jesus" kyk na sy kindertjies - want dit is net deur SY genade en werking in die mense se harte dat so iets moontlik is. Nadat die geskenkies uitgedeel is was dit die groot oomblik vir die kinders. Nou kon hulle na hul kamers gaan waar die "ooms en tannies" hulle ingewag en die kamers amptelik aan hulle oorhandig het. As jy dink dat jy al ooit verbasing en vreugde gesien - ek wonder? Woorde kan nie hierdie kinders se verbasing en vreugde beskryf nie! Die kamers is sprokie mooi - met soveel detail - dat dit eintlik jou keel laat toetrek. En jy besef hoeveel moeite en liefde hierdie volwassenes ingesit het om net hulle allerbeste vir ons kinders te gee! BAIE, BAIE DANKIE!!! Die kinders pendel van die een kamer na die ander om te spog en die ander se kamers te bewonder - en die gesiggies straal. "Ek kan nie wag om in my nuwe bedjie te gaan slaap nie" word oral oor gehoor en dit klink soos musiek in ons ore! Teen 14:30 begin ons opruim met 'n lied in die hart. "HOW GREAT THOU ART....HOW GREAT THOU ART!" "Dankie Here vir die voorreg dat ons vandag 'n verskil in 75 kinders se lewens te kon maak. Dankie dat U ons alreeds so geseën het, dat dit nou vir ons moontlik is om 'n verskil in ander se lewens te maak. Ons doen al hierdie dinge net tot eer van U grootte naam. Amen" Vreugde groete Elsabé |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||