Lente Tee

Bloudakkies Ouetehuis

6 November 2004

 
  Vanaand sit ek en tik met ‘n lied in die hart! – Vreugde omdat ons funksie by die bejaardes ‘n reuse sukses was. Dankbaar dat daar nog soveel naasteliefde is – en bowe-al trots op my eie mense!

Sommer ‘n uur voor die tyd het die bejaardes al reggestaan – uitgevat in hulle mooi en netjiese klere – net reg vir die dag! Ons moes wikkel en het halfpad deur die versiering van die saal besluit om die bejaardes maar te laat inkom! Ons kon hulle nie langer buite laat staan en moeg word nie.

So tussen die versier van die saal en die uitpak van al die lekkernye op die tafels het die oues hulle self lekker tuisgemaak en hier en daar sommer hand bygesit.

En toe begin die groot bederf – soos party gesê het, hulle kry sommer die “full monty”! (genugtig - ek dink hulle kyk te laat TV!) Die dames is buitentoe geneem en in die koelte het die hand en voet versorging begin. Een tannie het sommer 3 dames gehad wat haar pamperlang. Toe kom die groot bederf – ‘n haarsalon – daar is hare gewas, gesny en mooi drooggeblaas. Die tannies kon nie glo dat so ‘n geluk hulle tref nie! Die manne se hande en voete is ook versorg en party het so bietjie gebloos oor al die vreemde vrouens se aandag!

Ds Hendrik het vir ons die gedeelte waar Jesus die dissipels se voete gewas het, voorgelees en daarna ‘n gebed gedoen.

Hierna het Anneke en Loraine die oues in die saal op hul tone gehou met vasvrae en pryse uitdeel. Soos gewoonlik het ons hoendervleis gekry van hulle mooi sang en het hulle behoorlik moes smeek vir ‘n blaaskans.

En toe gebeur dit!!!!! - Ons kry boodskap - “Kom help – iemand sit in die toilet vas!!”
Ons lag en wonder wie dit is – en gaan aan met ons dinge, met die gedagte dat die persoon seker nou al uit is! - Heelwat later hoor ons dit! - Dit is Anneke wat nie by die toiletdeur kan uitkom nie! – ek dog ek breek al my ribbes soos wat ek lag! - ek sien al hierdie snaakse tonele voor my geestes oog (maar hou dit gelukkig vir myself!) en stap toe maar na die “huisie” se kant om die gedoente te gaan beskou. Ek was net betyds om te sien hoe Anneke deur die opening tussen die muur en die dak deurseil soos ‘n wafferse akrobaat! Want die deur wou nie oop nie! Op die grond geland skud sy haar hare reg asof sy hierdie tipe van ding elke Saterdag ogend doen en stap al laggende saam met ons klomp histeriese vroumense terug! - Anneke – vergewe my asb – maar ek moes dit met die volk deel. Jy is ‘n stêr!!

So - laat dit in die anale opgeteken word – niks hou Anneke van die verhoog af as sy vir ons oumense moet sing nie!

Hierna het dit behoorlik jollie begin gaan. Hier en daar het 2 ou tannies mekaar sommer gegryp en bietjie gedans. (ek ook) Twee van die omies het hulle elektriese kitare gaan haal en heerlike tradisionele boeremusiek vir ons gemaak. Een tannie het ook saamgesing en ek het gesien hoe party dames probeer om ongemerk ‘n traan af te vee.

Daar was die allerheerlikste eetgoed en ons kon met groot dankbaarheid vir elke bejaarde nog ‘n hele groot bord eetgoed saamgee kamer toe! – daar was weereens kos in oorvloed – baie dankie.

En so kon ons op hierdie Saterdag oggend danksy so baie mense se bydraes en hulp die bejaardes by die Bloudakkies Outehuis vir ‘n rukkie van hulle sorge laat vergeet en herinner dat ons nog vir hulle omgee en dat die bejaardes nog vir ons kosbaar is.

Baie, baie dankie aan almal wat gehelp het om dit moontlik te maak, en aan die wat graag die oggend saam met ons sou wou deurbring, maar nie kon nie – vroeg volgende jaar maak ons weer so, dan kan julle saam inval en die vreugde van so ‘n oggend saam met ons kom ervaar.

Mooi dag

Elsabe
 
 

 

 

Die saal word mooigemaak

Vlytige hande

   

 

Die gaste staan reg

Vrugtesap word aangemaak

   

 

 

Die tyd moet nou omgaan

Staatmakers besig met voorbereidings

   

 

 

Ons ondersteuners vra die seën

Ons gee ons hande tot u diens

   

 

Dit gaan jollie

Net die regte kleur

   

 

Op die knieë

Net 10 dae oud en hy kom naastediens doen saam met sy mamma!

 

 

Eers gou droogblaas

The full monty - dit is nou diens!

 

 

Heerlik- heerlik!

Kleinboet doen tannie Mart se naels

 

 

Voetewas met liefde

Elsabe ontvang 'n dankiekaartjie - te pragtig!

 

 

Ons kan alles doen!

Haarkappery-vroue van formaat

 

 

Ons bejaardes maak musiek

Ds. Hendrik en Elsabe

 

 

Werdi konsentreer baie hard!

Ds. Hendrik bring die blye boodskap

 

 

'n Gelukkige pryswenner

Gelukkige trekkings

 

 

48 jaar gelukkig getroud

Prys vir die ouma met die meeste agterkleinkinders

 

 

49 jaar gelukkig getroud

Loraine deel drukkies uit

 

 

As dit darem nou nie goeie diens is nie!

'n Reuse koek vir laat Sondagmiddag tee

 

 

En toe dans ons!

Anneke en Loraine, ons nagtegale

   

 

En daar is hand geklap en lekker gekuier