|
|
Kleuterskool Februarie 2005 |
|
Agtergrond Ons het ons kleutergroepie middel 2004 begin onder 'n sink afdak op 'n sement vloer met 11 verwaarloosde kleutertjies. Hierdie groepie het vinnig gegroei na 56 gretige "leerlinge"! Ruimte en fasiliteite was 'n groot probleem en redding het gekom in die vorm and Attie de Jager en die Ondersteuningsraad. Ons outjies het oorgeskuif na die Van Rensburg ouetehuis perseel en meteens was alles sommer net reg! Twee houthuisies (sien op website) het gedien as "klaskamers" vir die outjies. Ons getroue ondersteuners het gehelp en ons kon in al hulle behoeftes voorsien. Die ouetehuis voorsien daagliks ontbyt, 'n broodjie 10 uur en 'n gebalanseerde middag-ete uit hulle kombuis vir die kleuters, waarvoor ons oneindig dankbaar is. Attie ('n welsynwerker) oortref homself met die kleutergroep en sonder hom daar is ons verlore!. Juffrou Maria het die groep saam met ons begin en gou was die hande net nie genoeg nie. Juffrou Elizabeth het bygekom en ook 2 versorgers, Rachelle en Marieta. Einde 2004 het ons afgesluit met 56 oulike kleutertjies en 5 wat "gegradueer" het en nou goed aanpas in die laerskool. en toe............... Januarie 2005 open ons met 80 kleuters ! ! ! . Ons was in 'n toestand van skok! Waar gaan ons met almal heen? hoe gaan ons regkom? En net toe ons nou behoorlik paniekerig raak - vererger die situasie nog meer ! - Ouers staan in rye "om hulle kindertjies ook 'n kans te gee asb"! Hoe wys jy minderbevoorregte ouers en kinders weg? ek probeer toe nog wal gooi maar Attie se hart is sag en hy laat nog 10 kinders toe! Nou staan ons op 90 kleutertjies in 2 houthuisies van 6x4 meter groot! Dit lyk soos nagmaal op Pofadder - kleinties en nogmaal kleiintjies die hele stukkie grond vol.! Waar jy probeer trap is daar 'n kleutertjie. Haasbekkies glimlag breed oor hierdie geleentheid om saam te kan speel en te leer! "Tannie ons jol lekker hierso!..."Het jy vir ons swieties en ander goete gebring?" en ek voel SKAAM dat ek daaraan gedink het om van die outjies te weier. Nou staan die sake so! Ons het 4 personeellede wat maandeliks salaris moet kry. Huidiglik gee ons 'n meevallertjie om dankie te sê vir hulle hulp, maar ons sal vir hulle 'n "salaris" moet betaal vir hierdie ongelooflike werk wat hulle daar doen. Ons sal nog 'n onderwyseres moet kry want die getalle is te veel per persoon. Hiervoor het ons konstante fondse nodig. Ons moes dringend nog houthuisies kry - die kleuters moes die meeste van die tyd buite wees! Dit is bloedig warm en die outjies is pootuit in die middag. Ek het verlede week weereens met groot geloof 2 houthuisies laat oprig en het 2 weke gekry om fondse in te samel vir die betaling. Dit was onmoontlik om eers geld in te samel en dan die huisies te koop aangesien die outjies aan al die elemente blootgestel was! 'n 4X6 houthuisie met 6 klein venstertjies, 'n skuifdeur en isolasie teen die dak kos R11 000-00. Verder het ons ook fietsies nodig vir die kleuters. Die sandpit moes verdwyn want ons moes een huisie daar opsit. Ons moet ook 'n afdakkie oprig sodat die outjies wat buite speel darem koelte kan hê! Verder benodig ons nog apparate en baie opvoedkundige speelgoed. Verf, klei, legkaarte en al die gewone items wat 'n kleuterskool nodig het is ook nou groot in aanvraag. Die behoeftes is nimmereindigend MAAR die beloning is so GROOT! Onthou dat ons nou omtrent al die kleutertjies uit die Danville Kamers (waar prostitusie en dwelmhandel floreer) het en hulle nou tenminste in die oggende tot 13:00 "veilig en versorg" is. Hulle kry genoeg kos in die oggend/middag (sou daar dalk nie kos in die aand beskikbaar wees nie) om hulle deur te kan trek na die volgende oggend wanneer hulle 'n stewige ontbyt sal kry. (het jy al gesien hoe verslind 'n 3 jarige kind, 3 bakkies pap?.. glo my niemand wil dit aanskou nie!) Ons weet dat 'n gebalanseerde dieet lewens-noodsaaklik is vir 'n kleutertjie se ontwikkelling en sonder die ouetehuis se hulp sou ons dit nie kon doen nie! MAAR ons kan met dankbaarheid sê, met behulp van ons ondersteuners en hulle groot naasteliefde is NIKS onmoontlik nie! Want ons lees "Laat die kindertjies na my toe kom ............... en hoeveel te meer het hierdie minderbevoorregte outjies ons hulp en bystand nodig? Baie dankie aan almal wat altyd help (al versprei jy net hierdie brief - help dit ook) Indien iemand 'n bydrae tot die houthuisies se betaling wil maak, ek heg weer die besonderhede aan. Skryf net asb "houthuisie" by die verwysing. Mooi dag en nogmaals baie dankie Elsabe |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||