|
|
Danville Kersboom Die Groot Dag 11 Desember 2004 |
|
KERSBOOM 11-12-2004 Dou voor dag het al die vrywilligers begin werk om vermaak en kos en verversings vir 600 kinders en bejaardes voor te berei! En glo my dit was 'n enorme taak! 5 springkastele, 'n nar en 'n verstommende motorfiets vertoning het vir groot vermaak gesorg. Eetgoed was in oorvloed en party outjies het na 4 roomyse hartlik bevestig dat hulle nou nie meer KAN nie! Meteens was daar die geluid van brandweer sirenes! - eers was almal verskrik toe die groot rooi gevaarte op die rugbyveld inry! maar sommer gou-gou het hulle besef "Hierdie vuurlorrie bring sneeu!" Die brandweer het vir ons kom skuim spuit en glo my - ek kan uit eie ondervinding getuig - dit was HEEEEEERLIK!!! Al wat jy kon sien was laggende bekkies en ogies wat skitterblink! Verder was hulle toe onder die skuim. Ek het ook goed deurgeloop en wou nog vir my hare keer (vroulike ydelheid) toe ek besef - "Ek het nog nooit in brandweerskuim gespeel nie!" die gevolg - op hierdie dag kon ek weer soos 'n kind ('n ouerige 51 jarige kind!) plat op die grond sit en saam met die kleintjies baljaar! dit was heerlik! Middag ete was 'n fees van heerlike koue vleis en slaai met roomys, vla en vars vrugteslaai as nagereg. Koeldrank, lekkers, roomys en groot hompe spookasem was in oorvloed beskikbaar. Kort kort het ek gesien hoe kinders van die lekkernye in plastieksakkies sit om huis toe te vat! En uiteindelik was dit tyd vir 5 Kersvaders om die geskenke te bring! Eers vertel ons vir hulle dat die takbokke nou al gedaan is van die hitte, hulle horings is al amper plat en hulle tonge hang 'n myl uit! en toe draai ons die storie dat oom Karel nou maar die slee vir ons gaan hak met sy 4x4 want die takbokke kan net nie meer nie! Die seuntjies het van hierdie storie gehou en mens kon letterlik sien hoe spits hulle, hul ore om te hoor waar die slee is! En daar kom die slee met 5 kersvaders (2 kersmoeders en 3 vaders!) by die hek ingery - pandemonium - die kleintjies lag en gil en harloop amper voor die bakkie in. Party hang soos vinke aan die slee en ons moet net keer! Om my sien ek hoe party van ons helpers wegdraai sodat almal nie kan sien hoe hulle huil nie! - groot mans vee kastig ongeërg trane weg en een vrou ruk soos wat sy huil oor die groot- groot vreugde van die kinders! Vinnig is almal in hulle groepe opgedeel en kon die geskenke uitgedeel word. Vreugde op vreugde! Elke kind het 'n splinternuwe geskenk gekry en nogal tenminste een van die artikels waarvoor hulle gewens het! Barbie poppe was in oorvloed en een klein dogtertjie het die poppie styf in haar arms vasgeklem en dit begin sus. Ons kele het toegetrek! Intussen het ons die bejaardes van die Bloudakkies ouetehuis in die skoolsaal onthaal. Elsabe van Niekerk het vir hulle gesing en sommer vinnig het van die bejaardes saam hande geklap en gesing. Die buffet middag ete was voortreflik en die dames het die saal en tafels lieflik versier, 'n fees vir die oog! Ons bejaardes het behoorlik geblom - en hulle self gate uit geniet! Groot was die verbasing toe hulle "eie Kersvader" by die saal opdaag en begin geskenke uitdeel! Soveel hartlikheid en geluk het ek lank laas gesien!. Hierdie dag se sukses en vreugde is net te danke aan al ons ondersteuners wat hulle harte en beursies oopgemaak het om dit moontlik te maak. Die persone wat hulle tyd opgeoffer het om ons te kom help was sterre! Niks was moeite vir niemand nie en almal het werklik baie hard gewerk om te verseker dat ons mense 'n heerlike dag het! BAIE BAIE DANKIE En bowe-al sê ons baie dankie aan ons Hemelse Vader wat weereens sy hand oor ons gehou het en ons gelei het om na sy kinders om te sien. Sonder HOM is niks moontlik nie. Voorwaar hierdie was weereens 'n Kersfees van wonderwerke! |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||