Grootgeluk Projek

Laezonia

Hoe wyd strek die HEER SE GENADE!? Ek wil graag groot genade en vreugde met al ons ondersteuners deel vanoggend!

GROOTEGELUK
‘n Paar weke gelede kry ek ‘n oproep uit Ierland! Gerhardt Maritz daar uit die vêrre vreemde het van ons projek gehoor EN vertel my van sy 3 hektaar plot by Laezonia wat hy tans uithuur. MAAR sê hy dat as ek wil, kan ons hierdie plot kry om te gebruik vir die projek !!!! Al wat ons moet doen is om vir die elektrisiteit te betaal en die plek instand te hou! Is dit nie hoe wonderwerke lyk nie?? Hy vertel van ‘n groot huis met store en 3 woonstelle – maar min kon ek my indink wat ek werklik daar sou kry!

Ek en Arnold ry met groot nuuskierigheid en so klein bietjie twyfel in die hart oor wat ons nou werklik daar op die plot gaan kry. Die vorige huurder was glo nie te fluks en goed nie – en mens kan maar net wonder oor wat jy gaan kry! Fondse is maar min en dit is redelik vêr van ons af!

En so stop ons voor die plot en ek hoor weer die woorde “So wyd strek die HEER SE GENADE!! in my gedagtes. Want wat ek voor my sien is GENADE op GENADE!

Die mooiste reuse groot grasdakhuis met buitegeboue, store, woonstelle en ‘n tuin wat op ‘n tyd naby aan die paradys moes wees! Ons sit stil en kyk en kyk en kyk! Wonder toe nog eers of dit die regte adres is – maar ja dit is!! En net daar daar doop ek die plek – Grootegeluk! Want dit is werklik die grootste geluk wat nog ooit na ons projek se kant gekom het!

Drama met die huurder wat hoog in die takke is en sommer ‘n stokoue Labrador hond op ons wil sit (arme hond – weet nie wat haar tref met die nuwe “aanval” bevele nie)! Tantrums soos wat jy nog nooit by ‘n kleuter gesien het nie! Maar na ‘n lekker klompie drama – vertrek ons daar met ‘n lied in die hart!

Die huis het dringend ‘n laag verf nodig, die tuin moet gered word, die waterpomp se motor het uitgebrand en nog so paar skete. Maar hiervoor sien ons kans. Ons mense is nie lui nie – sal die plek sommer vinnig regruk. Die groot vreugde is dat die huis 6 slaapkamers het. 3 Woonstelle buite wat ook bietjie aandag nodig het MAAR DIE ALLER BELANGRIKSTE is dat dit ‘n huis is met baksteenmure en ‘n dak oor die kop, -
Nie ‘n 3 x 3 plankdun houthuisie nie! Dink net hoeveel mense kan ons hier huisves?

Die perseel is ook geskik om kampe te kan hou. Lieflike swembad, trampoline en swaaie. Aan die onderste deel kan ons ‘n “obstacle course” inrig vir die kinders wanneer hulle kom kamp.

Genade hier is soveel potensiaal – mens kan droom, en doen! Op die 1ste Junie het ons okkupasie geneem – en Arnold se troepe is alreeds besig om skoon te maak!

Gister die 8ste Junie het ons alreeds 7 mense in die huis!! Sooooooooo lekker om alreeds ‘n verskil in 7 mense se lewens te kan maak! Ons Hemelse Vader is so getrou! Alle eer aan HOM!

Ek hou julle op hoogte met al die werksaamhede hier.

Intussen kort ons heelwat maar om te begin sal ons graag buite en binne wil verf. As daar dalk selgroepe of besighede is wat vir ons wil help deur verf te borg of sommer dit ‘n projek wil maak en self ‘n vertrek of 2 kom inrig – Julle is meer as welkom.

Miskien is daar iewers iemand wat so bietjie ekstra geldjies het en koop dalk hierdie huis vir ons projek – lekker om te droom nê?