|
|
President Kruger
Dogters Oorlewingskamp
|
|
HEERLIK, HEERLIK,
HEERLIK! Woorde het ek nie vanoggend om te beskryf wat ons hierdie naweek beleef het nie! Baie, baie dankie weereens aan almal wat dit vir hierdie dogters moontlik gemaak het om te kan gaan kamp Die naweek was 'n belewenis! Ek wens almal kon saam gaan kamp want dit is moeilik om die gebeure in 'n kort briefie te beskryf. Vrydagaand net na 7 arriveer die dogters in 'n semi luukse bus. "Tannie 'n bus met gordyne en nogal 'n bus met 'n toilet in! sjoe dis nou 'n treat gewees"! (die toilet het oortyd gewerk want almal moes dit gaan beproef!) Tydens die rit plaas toe het 'n paar meisies gesê dat dit vir hulle genoeg sal wees as hulle net die hele naweek in hierdie "Grênd bus kon rondry"! Op die plaas aangekom het hulle netjies en georden eers buite die bus gewag op instruksies - soveel anders as die ander groepe! En ek het weereens besef - dissipline en roetine is lewensbelangrik vir enige kind - dit bring ook sekuriteit!. Wanneer die fasiliteerders gepraat het was die meisies stil en was dit nooit nodig om hulle stil te maak te enige tyd gedurende die kamp nie. Eers is al die "fasiliteite" geinspekteer! - Die bosstorte was great maar die bostoilette was "Eeeeek" " Die spinnekoppe gaan ons sterte byt! en wat maak ek as 'n slang my beetkry? het omtrent weergalm oor die plaas! Toe moes hulle gaan uitpak en hulle "beddens" regmaak vir die nag - hier was dit omtrent 'n gedoente oor "oorkruipers wat my breins gaan uitsuig en wat as 'n spinnekop saam in my slaapsak wil slaap? Alles wat gesê is en raad vir al die elendes kan ek ongelukkig nie hier neerskryf nie! maar glo my ek het amper gelê van die lag! Party het met hulle baaidjies se kappies oor die kop - toutjie styf vasgetrek geslaap! En toe by die eerste tent - kry ek die eerste aanslag op my emosies! Voor my is twee bedjies opgemaak. Perfek (amper weermagstyl) maar met 'n magdom sagte diertjies op die kussings en bedjies uitgepak! Ek het vinnig uitgeloop! het hulle later gekomplimenteer en moes toe hoor dat hulle eerder klere of komberse by die huis sou los maar sonder hulle "softies" gaan hulle nêrens nie! "Wat eet ons vanaand tannie? en groot die vreugde en opwinding toe hulle hoor dat hulle, hulle eie vleis moet braai! Eers was hulle benoud dat hulle dit nie sou kon regkry nie maar Phil, Ettienne en Christo het hulle gou touwys gemaak en toe is dit 'n fees! Teen middernag het dit eers begin stil word. Saterdag oggend was die opwinding baie hoog. Eers "njammies" bokspap geeët en skottelgoed gewas. Daarna was hulle in die fasiliteerders se hande. Oorlewingstegnieke, noodhulp en mediese inligting ens. is bespreek en die dogters het lewendig insette gegee. Daarna was dit veld toe! - en weereens was daar 'n kastige vrees vir "giant size bosluise en jaagslange!" Ek dink die kinders kyk te veel TV! Na middagete kry ons 'n heerlike verrassing. Quintus Loots (seun van die akteur Jacques Loots) kom gee 'n praaitjie oor slange en haal sommer sumier 'n bruinslang uit 'n sak. Pandemonium! van "ag maar hy is te sweet tot addergebroedsel! word gehoor. Toe almal tot ruste kom is daar sommer 'n hele paar wat baie braaf is en die slang vashou - tot my man Phil se groot ontsteltenis (hy sê die enigste goeie slang is 'n dooie slang) As ek reg onthou is die slang se naam Fanie. Quintus het sommer lang gesprekke met Fanie gehad en met groot seremonie is Fanie die op die plaas naby die forel damme vrygelaat!. Net toe hulle wil ontspan kom die volgende verrassing - in 'n houer in die bakkie is 'n nagadder! Hy byt glo seer maar is nie giftig nie. Hulle het versigtig in die houer ingeloer en toe is die slangetjie ook in die veld - vêr van waar hulle sou gaan stap losgelaat. Die namiddag het hulle "gechill" 'n Paar het in die dam gaan swem, waar daar toe sowaar 'n bloedsuier vir een van die meisies beetkry! Groot konsternasie - maar niemand klim uit nie! Die kano het vir groot plesier gesorg - was partykeer meer onderstebo as reg op die water. Intussen steek Christo hulle aandete in die veld weg. Toe dit donker is - word hulle op 3 bakkies gelaai en op die bo-punt van die plaas afgelaai met 'n kaart en kompas om hulle kos op te spoor. Iemand hoor kastig 'n leeu brul en daar gallop die verbeeldings weer. Ons het lekker gelag toe een van die groepe op 'n manier 'n sak kos van 'n ander groep, ekstra vat en dié toe hulle nie hulle kos kon kry nie! Dit was nogal lekker om aan die anderkant van die damme te staan en luister hoe hulle gil en redeneer in die stikdonkerte. Jy sien net die flits liggies rondswaai!. Die groep wat eerste klaargemaak het moes weer teruggaan want hulle het nie al hulle pakkies kos gehad nie! en toe hulle weer onder by die basis kom - spring Ettiene agter 'n bos uit en jaag hulle behoorlik die skrik op die lyf! Vroumense se keelgate is voorwaar hulle grootste wapens! Uiteindelik was almal terug by die kamp en moes hulle weer hulle eie vleis braai. Die meisies was pootuit maar die gees was hoog! En hier het ons baie hartseer verhale tussen die gesprekke opgetel van "My pa het my nie eers met my verjaarsdag gebel nie tot ek wens so ek kon my ma saambring kamp toe want sy sal nooit op so plek kan kom nie, sy is te arm" Onthou hierdie is nie weeskinders in die sin dat hulle ouers oorlede is nie - hulle is almal uit hulle ouerhuise verwyder omdat hulle bv. nie veilig by hulle eie ouers is nie, molestering ens. ens. Dit maak die situasie vir my baie erger - want wanneer jou ouers dood is kan jy aanvaar dat hulle nie daar is om na jou te kyk nie - maar met hierdie kinders is dit baie erger en die hunkering na 'n gelukkige normale ouerhuis is erg. Sondagoggend bederf Phil hulle met lekker roereiers en gebraaide worsies en hompe kaas. Die meisies begin stil word en ons kele begin toetrek! - netnou moet hulle huis toe gaan. Die een outjie sê "as ons hier wegtrek gaan ek my doodhuil!" en 'n ander ouer dogter draai sommer haar gesiggie weg!. Toe die bus begin wegtrek huil ons almal - van die dogters hang by die vensters uit en kyk ons stip in die oë - "Tannie SAL jy ons weer laat kom kamp - belowe ons asb?" En ek kruis my vingers oor my hart en belowe hulle - "Sien julle sommer gou-gou weer - dit is 'n belofte!. Nog nooit, ooit was die afskeid vir my so swaar soos gister nie - maar terwyl die bus wegry kom die volgende in my gedagtes op:- How Great thou art - how great thow art! - U het in vreemde mense se harte gewerk en hulle laat uitreik na hierdie kinders! Danksy u Grootheid kon hierdie kinders kom kamp. Dankie Liewe Vader vir mense wat omgee - Mense wat help om 'n verskil in 'n vernielde kind se lewe te maak. Dankie dat U, U bewarende hand oor my en my kinders gehou het sodat hulle nie vandag deel van hierdie groep kinders is nie. Dankie dat U so goed is vir ons - vergewe asb al my sondes en help my om nog meer vir die vernielde en stukkende kinders om ons te doen. Nogmaals baie dankie Elsabe |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||