Dogters Oorlewingskamp

29 tot 31 Oktober 2004

 
  Die kamp was 'n reuse sukses - Baie dankie aan almal wat gehelp het om dit moontlik te maak.

41 dogters het 2 ure voordat die bus moes vertrek opgedaag en was (vreemd genoeg vir vroumense) - gereed om net in te klim! - die opgewondenheid was hoog en die sêgoed uit 'n ander wêreld.

Hulle het donker op die plaas aangekom - propvol streke! Die aand het afgeskop met kougom verwyder uit "Chappies" se hare! dit was so groot bol dat ek nie kon dink 'n gewone mens kan soveel kougom in jou mond kry nie! Nietemin ys het die ding gedoen en die kamp het begin!

Na ete en skottelgoed was is hulle tente toe - ag genade - tipies vroumense was elke mot en mier so groot soos 'n dinosourus! Alles wat 4 of meer bene gehad het was summier vermoor! 'n Groot vet veld kakkerlak het vir Bea omtrent 6 voet hoog laat spring. Toe hy op haar voet land het sy 'n "riel" gedans wat 'n Oscar of tenminste 'n plek in Riverdance verdien het.

Die bosstorte was nog 'n belewenis vir hulle - eweskielik kon niemand gaan slaap sonder om te stort nie. 41 meisies wat gelyk wil stort is ook nogal iets om te aanskou! (dankie vader die seuns was nie daar nie!) 11 uur het die klomp nog gegil en geskreeu, en as ons nie die ligte afgesit het nie sou hulle deur die nag aangehou het.

Saterdag oggend het afgeskop met 'n kursus in oorlewing en daarna het Christo hulle veld toe gevat vir wippe stel ens. 'n Groot verrassing het vir hulle gewag toe hulle terugkom. Na middag ete het ons hulle na die Kwena Fees in Lydenburg geneem!

Hulle het op 'n reuse waterglybaan (omtrent 3 verdiepings hoog) gegly, springkastele gespring, hare laat kleure insprei en wat jy aan kon dink - dit het hulle gedoen. Die hoogtepunt van die fees was hulle besoek aan die polisie uitstalling. Soveel gasvryheid kry jy net op die platteland! . Toe ons groep aangestap kom het 'n polisievrou, Charmaine ons tegemoet geloop en verwelkom! Die kinders het haar dadelik geannekseer en het soos vinke aan haar gehang. Sy het ons deur die uitstalling geneem en die kinders se monde het oopgehang oor alles wat hulle gesien en gehoor het. Daarna is ons buitentoe om na die voertuie te kyk en toe kom die groot verrassing- Die kinders kan in die Njala (polisie-pantservoertuig) ry. Dit was omtrent 'n gedoente! - Bundu bashing op sy beste! Ons is deur die hele feesterrein, oor bulte en deur slote. My kop het 'n paar duike gekry in die proses, maar dit was 'n belewenis. Daarna is hulle in die "hondehok" agter in die polisiekar rondgery met loeiende sirenes. Met ons vertrek het elke kind ook 'n geskenkpakkie gekry - dit was nou groot bederf!

Terug by die kamp was dit weer 'n ander storie - Christo het hulle aandete in die veld gaan wegsteek en hulle moes hulle kos gaan soek - of honger ly!. Met 3 bakkies vol meisiekinders is ons die veld in. Ons het hulle aan die bo-punt van die plaas afgelaai en Deon en Tanja het halfpad by die damme, onder 'n skuiling met 'n lantern vir hulle gesit en wag.

Die meisies moes toe hulle kennis van kompas lees inspan - die versteekte kosse vind - en terugkom kamp toe. Die span wat eerste terug was het nie hulle instruksies behoorlik gelees nie en nie hulle mielies gekry en saamgebring nie - dus moes hulle al die pad terug gaan en hulle kos gaan soek! - sonder sukses want Christo het dit toe klaar gaan oplaai. Hiervoor het hulle punte verloor - maar dit was 'n waardevolle les - jy moet lees en instruksies noukeurig volg anders is daar probleme!

By die kamp moes hulle self hulle kos gaarmaak. Daar is toe besluit dat vrouens baie beter braaiers as mans is!! Dit was ook 'n ervaring vir hulle - veral die kleiner outjies wat so 8 jaar oud was.

En toe begin die pret! - toe ons, ons oë uitvee word ons met tandepaste besmeer! alles en almal het deurgeloop - selfs die toiletsitplekke! - ek het vanoggend nog natuurlike rooi wange! - soos wat die tandepaste my gesig gebrand het!. Uiteindelik het ons omtrent 12 uur die ligte afgeskakel!.

'n Paar van die groter meisies ± 16 jaar oud het nogal 'n houding gehad toe hulle aangekom het, maar soos die naweek gevorder het, het hulle gesien dat dit hulle niks
gaan help nie. By Saterdagmiddag was hulle net gewone tieniermeisies en Sondagoggend was hulle so mak soos lammetjies en van die eerstes wat weer vir sommer 2 weke op 'n slag wou kom kamp! Wonderlik wat 'n bietjie aandag en liefde weg van hulle omgewing vir hulle doen!.

Bea het haarself aan die tentpaal vasgemaak met haar baaidjie se moue en gesê dat sy nou "strike" sy gaan nie huis toe nie! Sy sal liewer op die plaas wil bly en in die tuin werk! (wonder wat haar situasie regtig is?)

Hiermee 'n paar briefies van die meisies:-

"Dear Oom en Tannie
Die kamp was regtag baie lekkar en ek geniet dit so baaie.
Baie 1000000de dankies en ek sal grag weer wil kom kamp.
Liefde "

"Liewe Ooms en Tannies,
Ek wil net sê tannie hulle is die beste en ek sal eenge tyd weer na hierdie kamp toe
wil kom en ons sal die ooms en tannies mis hier is so baie kos gewees - ek kan nie meer eet nie
maar ons wil weer engetyd weer hierna toe kom
Liefde "

"Aan al die Ooms en Tannies wat ons geborg het
Baie dankie dat ons op die kamp kon kom dit was baie lekker. Dankie vir die hemde, hoedjies en baadjies en sommer vir als. Ek sal daarvan hou om weer te kom kamp. Ons het so baie geleer Dit was 'n "Awsome" kamp.
Dankie ook vir die fees - dit is die eerste keer wat ek op 'n fees was. Al my liefde"

Net voor hulle vertrek het, het Phil op die buurplaas vir hulle 6 kratte perskes gaan koop. Perskes en 6 sakke lemoene en verskillende soorte lekkergoed is in pakkies opgemaak en kon elkeen 'n groot sak vol eetgoed vir die familie huis toe vat. Toe die bus 11 uur wegtrek was party van die meisies baie stil en het ek gewonder wat in hulle koppe aangaan (of miskien wil mens liewer nie altyd weet nie)

Ek sluit dan af met 'n groot dankie aan almal wat direk en indirek gehelp het om hierdie dogters te bederf! Dankie ook aan Christo, Deon en Tanja ons fasiliteerders - sonder julle sou die kampe nie kon plaasvind nie.

Danksy julle almal , kon hierdie 41 doters vir 'n naweek sorgvry wees!

Mooi dag

Elsabe
 
   

 

Hier kom die kinders

Kougom in Chappies se hare

   

 

 

Slaaptyd Vrydag aand

Christo se spanpraatjie

   

 

Deon en tanya - fasiliteerders

So werk 'n wip

   

 

Christo gee oorlewingsopleiding

Span 3 gaan strikke stel

   

 

 

Rangskikkings van veldblommetjies

Dennebolle vir Kersfees

   

 

 

Phil gee middagete

Middagete

   

 

 

Die veld maak mens honger

Middagete vir moeë dogters

   

 

 

Tanya, Deon, Christo en Phil

Besoek aan Kwenafees in Lydenburg

   

 

 

Die springkasteel was reusagtig!

Geen vrees nie!

   

 

 

Nuwe haarstyle

Deon kry ook 'n nuwe haarkleur

   

Gasmaskers is aangepas

Besoek aan SAP uitstalling

   

Ons dogters

Pretrit in 'n Nyala polisievoertuig

   

 

Styfsit in die Nyala

 

Klik hier vir nog fotos