| |
Ek het
vanoggend hierdie getuienis ontvang en ek het nie woorde nie!
Ek voel dat ons nou op 'n vreemde/onwerklike pad gelei word - 'n pad wat
definitief nie maklik gaan wees nie! - maar heel duidelik is dit 'n
sinkplaatpad wat geloop sal moet word!
Hierdie is weereens bevestiging dat dit enige tyd - enige dag - met enige
een van ons kan gebeur. Ek het toestemming om dit te plaas soos wat ek dit
ontvang het - totaal onveranderd! Die dame skryf:
Môre
Ek wil gou vir jou my man se storie vertel. Jy kan dit maar korter maak of
soos jy goeddink.
Nico se broer is in 1995 doodgeskiet in 'n rooftog van Fidelity Guards. Hy
was maar 26. Nico en sy broer het saam gewerk. Dit was 'n gewelidige skok
vir ons en vir sy ouers. Sy vroutjie was maar 8 maande swanger met hul
eersteling. Na die voorval het Nico se ouers aangehou dat hy die werk by die
sekuriteit moes los, want hulle wou nie nog 'n seun aan die dood afstaan nie.
Hy het toe bedank en het iets anders probeer. Hy het werk gekry as 'n
toutrok drywer by 'n insleepdiens maatskappy. Maar dit was slegs op 'n
komissie basis. So m.a.w. - jy kry net geld vir die hoeveelheid karre wat jy
hak en sleep. Dit het beteken dat hy vir baie lang ure moes werk. Die druk
het geweldig op hom gerus om vir sy gesin te sorg. Op daardie stadium het
ons net ons seuntjie gehad. Een aand het die duiwel hom besoek in die vorm
van 'n ander ou wat ook by die insleepdienste gewerk het. Die ou het hom
vertel dat as hy hierdie klippie rook, sal hy baie energie het om die lang
ure te kan werk, aangesien dit jou vir lang tye wakker hou, en jy nie soveel
slaap nodig het nie. Maar wat die satan hom nie gesê het nie (soos gewoonlik
praat hy nie die volle waarheid nie), is dat as jy net EEN keer die goed
gebruik - jy onmiddelik verslaaf is. Dit was 'n donker tyd - Nico het
verslaaf geraak aan Kokaiene....! Elke sent wat hy van daar af verdien het,
het gegaan om sy gewoonte te ondersteun. Hy het baie lang ure van die huis
af weggebly en nooit meer geld huis toe gebring nie. Die leuns wat hy my
vertel het, as ek hom daaroor gekonfronteer het, kan amper as 'n boek op sy
eie geskryf word. Almal het my vertel wat aangaan, maar sodra ek hom daaroor
gevra het, het hy net gesê die klomp lieg en wil net onnodig moeilikheid
tussen ons veroorsaak. Dit het vir maande so aangegaan - ek was op 'n plek
in 'n woestyn waar ek nooit weer wil wees nie. Daar was nie kos in ons huis
nie, want ek het net elke maand gesorg dat my kind se kleuterskool betaal
is, want ek het geweet hy sal daar darem ordentlike kos kry om te eet. En ek
was te trots om my ma om hulp te vra. Ek hét 'n verhouding met God gehad,
want ek het al in 1993 my hart vir Jesus gegee. Maar wanneer 'n mens onder
in die vallei is - is dit vreeslik moeilik om die lig bo op die berg raak te
sien. Ek kon nie bid nie - ek was moedeloos! Ek het self gevoel of God my
verlaat het. Ek het gedink aan selfmoord. Maar gelukkig het Jesus die
stukkies skerwe van my lewe gevat en besluit Hy gaan 'n pragtige kunswerk
daarmee maak. Ek glo vandag nog, dis hoekom Hy my gebreek het, sodat Hy iets
nuuts van my kon maak! In elk geval ek en Nico is uitmekaar vir 2 maande -
maar die band waarmee God ons aan mekaar gebind het, was baie moeilik om te
breek. En hy het teruggetrek en ons het weer probeer. Hy het sy verslawing
erken en belowe hy sou hulp kry. Ek het SANCA en FAMSA en al daai plekke
gebel, maar ek moes eers 'n bedrag van ±R5000 neersit voordat hulle hom wou
opneem. Self die mediese fonds wou nie help nie, want hy het dit oor homself
gebring. Dit het weereens gevoel of alle deure vir ons toeklap. Want sulke
geld was daar nie. Nico het toe maar weer sy werk by Fidelity Guards
teruggekry en dit het skynbaar beter begin gaan. Maar die einde van daai
eerste maand toe hy salaris kry, was die drang seker ongenadiglik erg. Hy
het met my bankkaart en kar verdwyn die Donderdag aand. Ek was rasend van
bekommernis, want hy het sy werk se vuurwapen by hom gehad. Maar ek dink
selfs God het daai aand besluit genoeg is genoeg en die streep getrek. Nico
het oor daai naweek al ons geld in die rekening gebruik en ook sy werk se
vuurwapen verkoop vir dwelms. Die Sondagaand het hy weer by die huis
opgedaag, sonder wapen of kar of bankkaart. Met 'n storie wat net in
Hollywood gemaak kan word. Die Maandag is hy terug werk toe, maar hulle het
nie sy storie geglo nie en hy is gearresteer. Toe hy my skakel om te vertel
wat aangaan het hy soos 'n baba gehuil. Ek het hom die aand in die tronk
gaan besoek. Sy woorde aan my was: "Ek het my kaartjie Hemel toe weggegooi!"
Ek het hom verseker hy het dit net verlê het, maar dis nie heeltemal weg nie,
daar is nog hoop. Na 'n lang en uitgerekte hofsaak het hy 'n boete van R4000
en 'n klad op sy naam gekry, hy mag nooit weer 'n vuurwapen besit nie, want
hy is onbevoeg. Waarvoor ek ook die Here prys! Ek het geweet daar is nog die
drang na die dwelms. En ek het besluit daar is net Een wat kan en sal help.
Ek het begin bid soos nog nooit in my lewe nie. Dat God daai drang moet
wegneem en die helm van verlossing op Nico se kop sit sodat die duiwel hom
nie weer kan verlei nie. God het onmiddelik begin werk in Nico se lewe. Die
behoefte na die dwelm is verbreek en is tot hierdie dag toe weg. God doen
nie halwe werk nie en ek dank Hom elke dag daarvoor en bid nog steeds dat
Jesus vir Nico onder Sy bloed sal wegsteek. Dis nou al 6 jaar later. Ons het
intussen ook 'n dogtertjie ryker geword, sy word die einde September 4.
Elsabe die Here is waarlik ons verlosser in meer as een opsig. Ek kan nou
terugkyk op die pad en werklik net die een ry voetspore in die sand sien en
besef dit is waar Jesus my gedra het. Ek dank ook net die Here dat ons
seuntjie nog te klein was om daai tyd te besef wat aangaan.
Ons is nou so bewus van ons afhanklikheid aan Jesus. Ons huwelik is ook
verryk hierdeur - glo dit of nie. Ons is nader aan mekaar as ooit - en ek
besef ook - dat wanneer ons booitjie dalk weer eendag deur stormwaters gaan,
dit nie sal sink nie, want Jesus is aan die stuur. Ons SAL die hawe veilig
bereik! Ek hoop dat ander wat die verhaal lees, sal besef dat mense wat aan
dwelms verslaaf is nie verwerp en/of verstoot moet word nie. Dis juis
wanneer hulle ons die nodigste het. Jy is dalk hule enigste hulp - al
beteken dit ook net dat jy vir hulle moet bid en deurdat jy sal verstaan en
hulle met liefde sal ondersteun. Hulle verstand word so aangetas deur die
dwelms, dat hulle nie besef wat hulle doen nie, en al wat vir hulle saak
maak is die volgende "fix". Hulle sal jou belieg en bedrieg en selfs van jou
steel. Hulle sal self misdaad pleeg om geld in die hande te kry daarvoor. Ek
dank die Here dat ons storie verloop het soos dit het. Dit kon soveel erger
gewees het. En ek glo God het Nico volkome vergewe en ek het ook - VOLKOME -
vir my beteken dit - ek gooi dit NOOIT weer voor sy kop nie!
Mense die duiwel loop rond soos 'n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind.
Ons moet elke dag die Here se bloed oor ons pleit, want die satan is 'n
magtige teenstander! Waak en bid is al wat ek nog wil sê: WAAK EN BID!!!!!!.
Dankie Elsabe vir die geleentheid om vir jou ons verhaal te vertel. Al die
eer kom die Here toe, dis Hy wat ons daarvan gered het. En ek sal Hom ewig
dankbaar wees daarvoor. Miskien is daar ook hoop vir ander wat deur
dieselfde gaan. Jammer vir die baie leeswerk. Soos ek gesê het, jy mag dit
maar verkort as jy wil.
Groete en Liefde in Jesus se wonderlike Naam |
|