Andeon
Hulp Projek - Help Project

 
     
 

Agtergrond

 
     
  Vriende

Oorkant die Zandfontein begraafplaas - die plek is regoor die Sandfontein begraafplaas reg langs die Mabopane snelweg op die Andeon plotte bly Arnold - hy is 'n man sy hart vir ons "geknakte riete" van die lewe oopgemaak het.

Hiermee gou bietjie agtergrond oor wat alles daar aangaan. Volgens Arnold het dit sowat drie jaar gelede begin toe hy 'n man en vrou by die Coke fabriek sien sit het sonder heenkome. Hy het sy plot aangebied en na gebed 'n karavaan teen 'n billike bedrag aangekoop wat die mense huisves.

Na die mense het hulle familie kom bly en later 'n jongman met 'n dwelm probleem.

Een van die manne wat later gevolg het, het op die polisiestasie se stoep geslaap.

Die boemelaar wat daar bly se vrou is in sy arms oorlede voordat hulle daar in getrek het. Dit klink vir my asof sy dogter nou 'n karavaan vir hom huur teen R200/maand.

Vier van die nagenoeg twintig mense kry 'n ongeskiktheids toelae.

Een gesin oorleef op bedelgeld wat die kinders inbring.

Een huisgesin oorleef op die ongeskikdheids toelaag van een persoon.

Arnold het 'n hart van goud. Hy se daar is 'n staalstruktuur wat toegemaak kan word dan wil hulle nog twintig ouens wat "die bloutrein ry" daar akkomodeer en probeer rehabiliteer! (Bloutrein is spirits wat deur brood of iets ander gefilter word om die kleur uit te kry en dan te drink!) as ek nou nog reg onthou van my vorige jare se ondervinding!

Hierdie het my laat skaam kry - ek propageer dat ek my nie kan moeg maak met drank en dwelmmisbruikers nie en dat dit hoofsaaklik oor ons kinders en bejaardes gaan! - wat ook in 'n mate seker reg is MAAR wie kyk na ons "geknakte riete"

Wie mag oordeel? Wie mag die eerste klip optel? Moet ons hulle ignoreer asof hulle nie bestaan nie? As ons wegkyk en hulle nie sien nie - gaan hulle en die probleme verdwyn? Wie en wat was hulle eens op 'n tyd?

Dalk 'n jong egpaar met drome in hulle oê - 'n jongman vol drome en ambisies vir 'n blink toekoms? - 'n jong meisie met blink oë oor haar eie gesin en huis wat sy eendag gaan hê? EN dan loop dinge verkeerd!
WIE IS ONS OM TE OORDEEL?

Ek moet besluit of ek hierby betrokke gaan raak - en ek kan dit nie sonder die hulp van ander mense met naasteliefde in hulle harte doen nie!

Is daar mense wat saam met my by hierdie projek wil betrokke raak? Is daar mense wat verby die "sleg en goor" dinge gaan kyk en probeer help om 'n verskil te maak. As ons een mens kan "hervorm" het ons iets vir iemand in nood beteken!

Laat weet vir my of julle belangstel om nou ook by die "werklike en harde" lewe betrokke te raak - direk of indirek? (hierdie is totaal verskillend van ons kinders en bejaardes)

Ek hou die pos dop!

Mooi dag en nogmaals dankie aan almal wat so getrou help.

Groete

Elsabe