| |
Hierdie artikel
het in Die Tribune, 'n gemeenskapskoerant wat in die
noordelike voorstede van Pretoria versprei word verskyn. Kontak gerus
Die Tribune met nuus of om te adverteer op 012 567 1020.
-Anelia Blackie
DIT IS WAT MET JOU SKENKINGS GEBEUR!
Anelia Blackie
Daar word dikwels gewonder wat werklik met skenkings vir behoeftiges gebeur.
En soms word daar selfs gekritiseer dat skenkings nie die behoeftiges
bereik nie.
Maar Elsabé Blignaut, wat die Danville Hulp Projek sowat drie jaar gelede
van stapel gestuur het, speel oop kaarte met dit wat vir behoeftiges
via haar projek gedoen word.
Sy skroom nie om jou na die Andeon projek op die Andeon plotte wes van
Pretoria te neem en te wys hoe sommiges wat eens dakloos was, nou
leef nie.
Op hierdie plot, waar tans 32 haweloses, wat tien kinders insluit, kom
Doreen Burmeister jou met 'n breë glimlag tegemoet en vertel met
opgewondenheid wat die Danville Hulp Projek al vir haar en haar gesin
beteken het.
Doreen, haar man Ronnie en hulle vier kinders was vir tien jaar haweloos en
werkloos tot hulle sowat agtien maande gelede by die plot opgedaag en
huisvesting aan hulle gebied is. Vandag woon hulle in 'n houthuisie
wat hulle smaakvol in slaapkamers vir die gesin
omskep het en het ook 'n tweede
houthuisie wat as 'n ruim en netjiese leefvertrek ingerig is. Die buitelug
badkamer gee jou die gevoel van 'n bosveld lodge en die braai area
onder 'n skadunet, noem Doreen trots haar kombuis.
Die netjies versorgde tuin met wandelpaadjies en
sierklippe, is Ronnie se trots.
"Alles wat jy hier sien, het ons deur skenkings aan die Danville Hulp Projek
gekry en so ook al die kos wat ons eet," vertel Doreen
"Daar was 'n tyd toe ons heeltemal moed opgegee het en al ons selfrespek
verloor het maar danksy al die skenkings is ons nou nuwe mense met
hoop en selfrespek. Ronnie doen los werkies en ons
kry weer bietjie geld in en die kinders kan weer
skool toe gaan," sê sy trots.
Dieselfde gebeur by die President Kruger Kinderhuis in Villieria waar Elsabe
en haar span vrywilligers die kinderkamers versier het - die meisies
se kamers is pienk en die seuns sin blou en elke
kind het sy eie handdoek met sy naam op geborduur.
"Ons bly nou baie lekker vandat tannie Elsabé ons kamers kom mooi maak het,"
sê die kinders.
Vrywilligers wat vir die Danville Hulp Projek werk, help dat sowat 200
behoeftiges daagliks kos kry en help ook om Vrydae aan 98 gesinne
nood kospakkies vir die naweek te gee. 'n Paar
individuele gesinne word ook help onderhou.
By twee ouetehuise in Danville word bejaardes gereeld bederf met vermaak of
hulle voete word gemasseer of hulle hare en naels word versorg en
jaarliks word weeskinders en behoeftige kinders op
jeugkampe vir 'n pret uitstappie na 'n plaas naby
Lydenburg geneem.
Die projek benodig bykans R100 000 per jaar om hierdie opheffingswerk te
doen en teen kerstyd sowat R25 000 om kersgeskenke aan te koop.
Elsabé is tans besig om deur die wenslysies van
behoeftiges en bejaardes te sorteer en kersbome te
reël.
Maar dit gaan nie net oor die liggaamlike behoeftes van hierdie mense nie
want Elsabé spits haar ook daarop toe om veral die vroue te leer hoe
om handwerk te doen wat hulle teen 'n wins kan
verkoop.
"Die doel van die projek is nie bloot om mense te voed nie maar om hulle te
help om hul selfrespek terug te kry sodat daar weer vir hulle hoop
vir die toekoms kan wees," sê Elsabé.
Meer besonderhede en fotos is beskikbaar op www.danvillehulp.co.za en
skenkings aan die Danville Hulp Projek kan gemaak word deur Elsabé te
kontak op 082 452 9445.
Bank
inbetalings kan gemaak word aan Danville Hulp Projek,
Eerste Nasionale Bank, Brooklyn, takkode: 251 345, tjek rekening:
62054634128.
|
|